Francois Alwyn Loots (24 Maart 1962 in Kaapstad), is ‘n Suid-Afrikaanse skrywer.
Lewe en werk
Loots is die jongste van drie seuns. Sy ouer broers is Lieb Johannes en Marius Jan. Sy pa is ‘n plaasboer wat in 2001 aan asbestose oorlede is en sy ma is onderwyseres en prinsipale. Hy word groot op ‘n plaas naby Prieska in die Noord-Kaap. Op Prieska voltooi hy sy laerskoolopleiding en hy matrikuleer dan in 1979 op Stellenbosch. Ná skool is hy vir ‘n jaar uitruilstudent in die American Field Service-program en gaan skool in Interlaken en Bern in Switserland. Hy studeer vir ‘n jaar aan die Universiteit van Stellenbosch, maar verskuif dan na die Universiteit van Kaapstad. Hier behaal hy die B.A.-graad in Sosiale Wetenskappe en Duits in 1985, die B.A. Honneurs-graad in 1986 en die M.A.-graad in 1991 oor die Duits-Joodse filosoof Walter Benjamin, met ‘n tesis oor “Der Begriff der Aura und einer Kunst ohne Aura im Werk von Walter Benjamin”. In 1989 studeer hy met ‘n Duitse Akademiese Uitruilprogram (DAAD) in Freiburg im Breisgau in Duitsland.
In die tagtiger- en vroeë negentigerjare gee hy klas by hoofsaaklik die Universiteit van Kaapstad in Duits en Vergelykende Literatuurwetenskap. Sedert 1992 is hy in Kaapstad gebaseer en vanaf 1992 tot 1997 werk hy vir verskillende organisasies wat hulle op gesondheid, opvoeding en landelike ontwikkeling toespits, eers in Kaapstad en later in landelike gebiede van die Wes-Kaap, Oos-Kaap en Noord-Kaap. In 1999 onderrig hy Engels by die North China University of Technology in Beijing in China en in 2000 by ‘n kommersiële skool in Kaoshung in Taiwan. Op ‘n vrywillige basis is hy ‘n Mandarynse tutor by die Universiteit van Suid-Afrika in 2001. Tans is hy vryskut reisjoernalis, vertaler, navorser en onderwyser en hy woon in Kaapstad. Hy is lief vir reis en behalwe die Ooste en sy studies in Europa het hy ook al deur Brasilië gereis.